Ekstra C

Ek staan teen die muur in die donkerte en hou die ander mense dop. Die musiek doef-doef deur my lyf en my kop beweeg op die ritme vinnig heen en weer. Die laserligte disorienteer my, helder kleure flits chaoties voor my oë.

Nog jagters staan saam met my teen die muur, en ek wonder watter ekstrakte vloei vanaand in hul bloed. Ek voel die voorgloed van die ekstra c , my hart klop vinniger, ek begin sweet,glimlag, dit kom.

My kop ontplof, ek moet beweeg, die energie is te veel, ek glimlag aaneenhoudend, emosies van liefde rol soos water oor my. Ek beweeg deur lae van insig, ek voel so tevrede,haatloos, ek intergreer met die nag.

Daar's 'n opgewondenheid, almal om my voel dit ook. Ons kyk vir mekaar en ons lag saam, want ons weet.

Die energie is oorweldigend, ek hanteer dit goed,bly kalm ,bly kalm.

Dis die groot dans, blitsvinnige ritmes en onritmes, ek beweeg saam (meer soos 'n zulu, as die ander) stewige bewegings,arms,bene,strek-strek,hop-hop. Rook borrel uit die vloer soos stof. Die bottel water staan voor my tussen my bene, ek drink daarvan en offer vir die danser langs my, hy drink ook en gee dit terug.

Ek beweeg nader aan 'n spesifieke laserlig, strek my hande na die sterre en bad in die pers ligvertoning. 'n Danser voor my draai om, moedig my aan met wilde arms, saam dans,links reg,swaai-draai,op-af,hop-hop, strek-strek,regs-links...vir vier uur lank.

Ek begin neerdaal en afkoel, drink baie water en kyk wat gaan aan in die koelkamer. Dis warm en vol rook. Ek soek 'n sitplek naby 'n meisie met twee blink vlegsels, ek skat dat sy so ses-en-twintig is, ons glimlag vir mekaar.

Daar's vreemde mense hier,nagapies wat verskrik is maar hard probeer koel wees. Vêr in die hoek is 'n groep mense wat 'n jong meisie kalmeer, dit kom voor of sy nie haar chemika onder beheer het nie, sy gee hort-kort 'n gil en hop liggies van kant tot kant. Die mense om haar praat saggies met haar,streel haar en laat haar nog water drink. Sy word weggelei.

Die meisie met die vlegsels het 'n baie kort rok aan en soos sy ronskuif sien ek haar neon wit pantie ,haar sagte binne-been. Die jagter in my sit skielik reg-op en ek beweeg my bene sodat my lus onopgemerk sal gaan.

Ek word nou moeg, iemand offer my iets wat soos wyn lyk, maar nie wyn is nie, ek skud my kop en staan op.

Dis al vroeg-oggend, dis koud buite ,maar die wind waai nie. Ek klim op 'n stapel houtstompe wat op die kaai lê, vanwaar ek 'n uitsig oor Tafelbaai het. Ek voel tevrede,dit gaan 'n goeie naweek wees.

Die son kom en Tafelberg word verlig, ek sit my sonbril op,haal my karsleutels uit , ek word haastig om by die huis te kom, ek wil my e-pos lees, die hoenders voer.

Ek draai by die hawe uit, helder strepe flits hier en daar oor my visie en die ritme van die groot dans klop iewers in my kop, ek is vol idees...

kortverhaal deur Vyg Fynbos


kliek terug na die STORIES blad
kliek terug na die INGANG blad