|
Die bukbuk van die vrou
Maandag Junie 23 1998 10:30 am
Sy loop badkamer toe en spoel die slaapsand uit haar oë, dan borsel sy
haar tande, bo, onder, langs die kante en laastens borsel sy haar tong
. . . o jissis, ek beter eerste die visse kosgee, dis seker al vier
dae, en die plant wat van die deurskroef afhang.. o here..ek beter nie van
die varing op die printer se tafel vergeet nie dan lag sy stil-stil
terwyl sy haar gesig en hande afdroog..en kyk in die spieël. . . mmm
daai rokersplooi is baie prominent..31..Rina het mos haar oë laat
doen..nee..aaaaag nee wat..who cares..
terug in die kamer, trek sy n wit pantie aan en gaan staan by die lang
spieël, haal die drie rekkies uit haar lang rooi hare, vat die tossel hare
in haar linkerhand,en begin borsel, sy kyk na haar juweelkissie. . . ek
het mooi goeters en dra dit selde, shit wat help dit mens het alles wat
jou hart begeer en niemand om dit mee te deel nie sy kry n knoop in
haar hare en en hou die string hare op teen die spieël en ontknoop die
hare en borsel dan verder. . . gelukkig slaap Tron nog..peace for a
while..ek wonder of metalchip regtig vir my die pakkie gestuur het en of
hy net kakpraat en my probeer rip..sal maar moet sien..nou vir wat het
Johan n standerd nege kind gebel..weird.. en hy sê sy kannie n woord
afrikaans praat nie.. ek wonder of sy dan daai gedig geskryf het.. want
dit sê dan seentjie..dis mos seun..sy's dan n meisie..ek gaan vir Graham
email, ek is nie lus vir die computerclub Vrydagaand nie
sy vleg haar hare in een lang dik vlegsel en trek haar bra aan.. staan
dan verleë by die klerekas en staar. . . kannie wag om daai lekker
checkhemp te dra nie, koue winter, reën, blos wange, ek lyk mooi in die
winter, ek is nie n somersmens nie..ek het nog nooit daai boots gedra
nie.. sy draai om en tel die shorts en t-shirt op wat sy gister en
eergister aangehad het en trek dit aan. . . verveeeelig, miskien moet
ek lipstick aansit en my bangles ..nee, die bangles pla my tog net as ek
tik
terug by die spieëltafel sit sy helderpienk lipstick aan. . . ek
weet... ek sal die oranje lint in my hare sit sy haal die oranje lint
uit haar lintelaai se lintespaggetie en maak dit aan haar vlegsel vas, dan
spuit sy parfuum aan haar nek en die binnekand van haar linker elmboog. .
. dis beter..ek voel goed vandag..ek wonder tot hoe laat Tron gaan
slaap..hy put my uit..sowaar ek het n break nodig
oppad kombuis toe buk sy om die blou radarskottel lego blokkie op te
tel, sy buk dan weer vir die plastic swaard, vir die leë milo boksie en
weer vir die toothpick. . . ek buk buk buk my lewe lank.. ek moet n
verhaal skryf daaroor, die buk-buk van die bukvrou..ha ha ha ha..dit klink
snaaks..
in die kombuis gooi sy die milo boksie en die toothpick in die drom,
rol die blinding by die opwasbak oop en kyk met n afbek na al die
skottelgoed, dan sien sy die miere. . . die bloody opwasbak aagh..nee
ek doen dit later..hey dis regtig baie klein miere die, shame die arme
goed,almal spuit net gif en nou trek hulle by my in..ek wonder of Naomi
gif gebruik ?..jissis wat stink so..shit ek beter dadelik die swartsak
uitsit..
sy tree tot by die swartsak en vou die rant uit die blik en trek dit
op, draai dit rats en maak n knoop, kyk om in die kombuis, maak die knoop
weer los en gaan haal die lee melkkarton, gooi dit in die sak , dan
sitkamer toe vir die koerant, gooi die in en na haar lessenaar om die
asbakkie te gaan haal. . . ek moet een of ander tyd al die papiere
uitsorteer, haaaaa ek rook te veel.. ek gaan vroeg dood ek sweer, swart
teer longe..n teerfabriek..haha..so what.. you only live once..
sy sit die swartsak neer en gaan sit by haar lessenaar en boot haar
rekenaar, steek n sigaret aan en sien weer die vol asbakkie, sy tel dit op
en draai om en maak dit leeg in die swartsak. . . ek beter eers die
swartsak gaan uitsit, hey hoekom vat my rekenaar so lank om te boot.. o
daar gaat hy nou..sug sy maak die kwartgerookte sigaret dood in die
asbak en staan op, tel die swartsak op en stap tot by die deur, sit die
sak neer en maak die deur oop, stap om die hoek en sit die swartsak in die
hoek. . . ma het my altyd so irriteer met haar 'kom hou vir my die
skoppie'.. Pa het altyd ons swartsak uitgesit..hoekom doen ek dit..
terug in die huis onthou sy van die visse en stap balkon toe, sy stoot
die deure oop en knyp haar oë teen die skerp oggend son. . . altyd
warm..ek haat hitte, ek haat dit..sy draai die deksel van die viskos
af, en gooi versigtig viskos en al drie bakke. . . hello
vissies..jammer jong .. julle is seker honger.. .die lelie BLOM !... ek
moet een of ander tyd die waterplante snoei, dit raak al weer buite
beheer sy kyk uit oor die groen grasperke, palms en bome. . . ek
hoor nooit meer voëls nie..dis al die airconditioners..dit raas te
veel..Darling is tog so stil.. ek kon die poue van ver af hoor..
terug in die huis stap sy kombuis toe en sit die ketel aan, haal n
koppie en piering uit,sit die koffie in en twee lepels suiker, stap yskas
toe en haal die melk uit. . . ek sal net vinnig aanlog, dan offline
werk, al daai emails sorteer en antwoord, en vir blitz die comic.zip
stuur die ketel kook en sy skink die water in, dan die melk, sit die
melk terug in die yskas en stap na haar lessenaar toe. . . en ek wil
daai aaklige link gif op my website ook verander, sommer gou n ander een
maak en dit upload..shit my koffie..sy stap terug kombuis toe en mors
in die piering oppad terug lessenaar toe, sit die koppie neer en steek n
sigaret aan . . . haaaaaa..lekker ou dodespykers dan dubbelkliek sy
om online te gaan en maak haar notepad oop, die lyn is beset. . . ag
nee..wel dan kan ek net sowel daai kortverhaal skryf..sy sit haar bril
op en met n sug trek sy die gordyn toe dat die son nie op haar skerm skyn
nie. . .wonder wat se kos ek vanaand moet kook, miskien daai
hoenderpasta, het ek garlic ?.. sy stoot die muis weg en trek die
sleutelbord nader. . . mm mm ja sy begin tik:
Maandag Junie 23 1998 10:30 am
Sy loop badkamer toe en spoel die slaapsand uit haar oë, dan borsel sy
haar tande, bo, onder, langs die kante en laastens borsel sy haar tong. .
. o jissis, ek beter eerste die visse kosgee, dis seker al vier dae, en
die plant wat van die deurskroef afhang.. o here..ek beter nie van die
varing op die printer se tafel vergeet nie
kort verhaal deur Vyg Fynbos
|