|
Kalm vrou
Cynthia staan stil by die kookarea en ontbeen die hoenderstukke, terwyl
die skulpnoodles kook. Agter haar staan Elise en stryk Jan se swart hemp.
Dis n tipiese kaapse wintersdag, dis koud en dit reën, dis die 1ste Junie
jaar 2000.
Die huis is nie stil nie, die lawaai druis deur die vloere, bons teen
die mure en echo genadeloos in my kop. Ek staan stil en luister terwyl ek
die hoender se sagte witvleisies druk en kneus om seker te maak daar geen
beentjies in is nie.
Jessica, Lario, Susan, en sewe ander vriende is in die sitkamer, hulle
kyk n video, daar’s vier seuns ook by, Rickus is Jes se boyfriend. Jessica
het haar eerste vriend huistoe gebring. Nou bekommer ek my oor vry en seks
en drank en rook en al die dinge waarmee tieners te doen gaan hê.
Ek is woedend, ek wil die kinders uit my huis uit hê, ek voel
magteloos, en die fantasie van my wat in die sitkamer instorm en almal
wegjaag met n bulderende stem, flits vir die honderste maal deur my kop.
Tron, JJ en Werner speel Half Life in Tron se kamer, dit dreun van die
skote.
Ek het griep, en my neus brand, my kop van lood, ek is bedonnerd en die
huis is vol kinders, ek moet kalm bly.
kortverhaal deur Vyg Fynbos
|