Liesbiet is dronk
Liesbet het lank vir ons gewerk, ma het altyd gesê dat die
kleurlinge wel drink maar baie harder werk as die swartes. Liesbet het
altyd 'n doek om haar kop gehad en sy het Lexingtion 10's gerook. Sy het
goed afrikaans gepraat en 'n bietjie engels. Sy het soggens sewe uur begin
werk tot vyg uur saans, wanneer Ma by die huis kom.
Pa was met tye lank weg op see en soms het Liesbiet oorgeslaap by ons
huis, want Ma was 'n baie bang vrou.
Eendag na skool kom ons by die huis, maar kom gou agter dat daar iets
verkeerd is met Liesbet. Sy praat snaaks en loop snaaks, ek het eers
gedink dat sy siek is.
Dit was Judy, my jongste suster wat eerste die idee gekry het dat
Liesbet dronk is. Ons was geskok en bang en het nie geweet wat om te doen
nie. Dis toe dat Judy en Neelsie besluit ons vir Liesbiet moet natspuit
met die tuinslang.
Ons het vir Liesbet natgespuit en toe sy op ons begin vloek, spuit ons
haar net meer nat tot sy druipnat en verdrentel gaan sit op die gras en
begin huil. Ons het gelag daaroor en vir haar uitgeskel en gesê dat ons
die polisie gaan bel en dat sy haar werk gaan verloor.
Ma was ook kwaad vir Liesbet, maar het haar nie weggestuur nie, Liesbet
het te goed gewerk en sy het soms vir ons kos gemaak. Ek onthou goed hoe
sy een jaar vir my koekies gebak het vir my negende verjaarsdag en hoe
helder groen, pienk, geel en blou die koekies versier was.
Vandag as ek terugdink aan Liesbet is ek skaam dat ek as kind so
onbeskof en wreed kon wees teenoor 'n arm kleurling vrou wat na my gekyk
het en lief vir ons was.
kortverhaal deur Vyg Fynbos