Die mier

Die mier loop blind op paadjies wat ek nie sien nie. Hulle is altyd op pad iewers heen, n krakie in die muur of n gaatjie in die vloer.

Ek hou hulle dikwels dop, hulle is fasinerende diertjies.

Ek wonder altyd hoekom hulle paadjies kronkel, ek dink hulle is liefdevol, hulle soen mekaar gedurig, dan waai daai voelers van plesier.

Partykeer as ek lus is, dan sit ek n bietjie stroop op hulle paadjie, dan kry ek baie lekker as ek sien hoe opgewonde hulle raak. Die woord versprei gou en voor jy weet, is daar n menigte miere. Hulle snuif en voel aan die stroop, drink hulle magies vol en dra dan nog daarvan na hulle huise toe ook.

Slaap miere in die winter? Ek wonder daaroor want in die winter sien ek miere net in my suikerbakkie.

Wanneer die somer word, stuur die mierkoning sy soldate op ontdekkingsreise, en dan wanneer die soldate terugkeer, luister die koning na al hulle avonture, hy hou kort daarna n konferensie met sy generaals om te besluit wat hulle vir die seisoen gaan doen. Jy sien, miere hou nie van baklei nie, maar soms kom miere van n ander kolonie om hulle kos te steel, dan moet hulle baklei.

Ek het eenkeer so gesit en rook in die son op die stoep, toe wonder ek of miere graag sal wil rook, toe blaas ek n longvol rook op hulle. Dit was fantasties om te sien ! Skielik het die miere vinniger begin beweeg, sommer in die verkeerde rigtings, hulle was dronk. Miskien moet ek n bietjie soetwyn in hulle paadjies sit. Ek maak soms miere dood, dan voel ek skuldig, en hulle proe na prikkel.

kort kort verhaal deur Vyg Fynbos


kliek vir STORIES blad
kliek vir die hoof indeks