homo sapien patetika

Die trane wat oor my wange rol, is vol woede en self-haat, die teleurstelling wat ek ervaar versmoor my, en ek weet nie hoe om met die skokkende besef te leef nie. Hierdie is nie n tyd vir mooi kreatiewe woorde nie, daar is net die naakte realiteit en skok van menswees en die barbaarse samelewing waarvan ek deel is.

Die nagmerrie visie van die duisende kinders gekrenk en gebreek, afgeskeep en verwaarloos, uitgespoeg deur die moderne masjien wat ons samelewing en gemeentskap noem.

Die onsettende selfsugtigheid en wreedheid van die mens kan nie weggesteeek word onder lae van vineer nie, nee, designer klere, diplomas, grimering, parfuum, ornamente, jy kan wegkruip en maak asof jy gesofistikeerd is, maar jy is net n simpel dier wat meegevoer word deur jou oeroue wil om te bly leef, die vasklouing aan n patetiese lewe, n lemming organisme.

Jy hoor van die wreedheid, jy lees daaroor, jy praat daaroor, jy huil selfs daaroor en na n rukkie van bejammering en hartseer gaan jy aan met jou lewe, kom jou afsprake na, en doen wat jy elke dag moet doen om jou eie sanktiteit te behou.

So gaan die jare heen, en steeds doen jy niks.

Die geskreeu van duisende kinders vasgemaak aan beddens, vasgekeer agter tralies, seergemaak, alleen en afgesonder, die geskreeu wat echo deur die tyd, kan nie stilgemaak word nie, dit gaan nie weg nie, want jy is nog hier, jy is die getuie.

Jy dink jy is anders, dat jy beter is, dat jy nie deel is van die dinge nie, maar jy is blind, jy is dom en barbaars, weet jy dan nie, dat ons is almal saam verantwoordelik is nie ? Jy is so pateties en onkundig, hoekom is ons so.. o jissis ons is almal skuldig, ons doen niks, ons doen niks..

Reinette kyk met groot oë deur die tralies van haar kot na die muur. Sy beur teen die toue wat haar gekneusde enkels en gewrigte aan die kot vashou, haar doek is vuil en dit brand haar maer lyf, vandag is haar 16de verjaarsdag.

Mevrou De Villiers kyk vir haarself in die spieël en glimlag en dink 'Ronelle, jy lyk goed vir 38', dan stap sy trots by die voordeur uit en klim statig in die mercedes. Die verkeerslig is rooi, en n man stoot sy 7 jarige seuntjie oor die pad na die speelpark. Mevrou De Villiers sien met n skok die maer skewe beentjies van die kind in die stootwaentjie, sy maak haar oë vir n oomblik toe en kyk dan weg.

Die luukse winkelsentrum se marmervloere, sagte musiek en beligting, streel Mevrou De Villiers se gemoed en toe sy die perfekte porseleinbeeldjie sien, het sy geweet net hoe mooi dit sal lyk in die eetkamer en die vae geheue van die ding in haar verlede verdwyn, en die effense frons gee weg vir n vonkel in haar oë.

storie - Vyg Fynbos


kliek vir STORIES blad
kliek vir die hoof indeks