|
Pelsjas horries
Op my tweede dag in Perth, kry ek toe so koud dat ek in tweehandse
klerewinkels begin soek na iets lekker warm om te dra. Die truie in die
winkels was maar lelik en uitgedra, toe sien ek die pelsjas.
Dit het so heerlik sag en warm gevoel, en dit het gepas, bowendien was
dit net 40$. Gedagtes van wreedheid teen diere en greenpeace het soos
klokke in my kop gelui, maar aai die jas was so saggies warm.
Die verkoopsdame kon nie my navraag oor watter dier se pelse dit was
antwoord nie, maar n ou tannie in die winkel het gesê dat dit hasie's was
en dat die spesifieke hasie jas styl hoog mode was so 20 jaar gelede, en
dat haaspastei van die diere se vleis gemaak is.
Ek het die jas dadelik aangetrek, en terug by die hotelkamer toe ek
instap en Tron my in die jas sien, het hy sowaar tot my skok weggetrek met
die wysie " Cruella de Ville , if she doesn't scare you, no evil thing
will.." nou ja, ek was redelik teleurgestel dat hy die situasie so
opmerkend opgesom het. Jan het uitgebars van die lag met, ha, uit die mond
van die kind kom die waarheid.
In die volgende paar dae is daar deur vreemdelinge aan my opmerkings
gemaak oor die jas, eerstens deur n meisie in n musiekwinkel en die tweede
keer deur n man in n kafee, "that is a lovely animal".
Ek het baie skuldig gevoel, ek wat beskermer van miere, goggas, wurms
en al die diere van die aarde is.
Ek regverdig die pelsjas met die volgende redenasie: Die hasie is gejag
en geslag, die vleis geëet en die pelse gebruik om die jas te maak. Die
slagtings is gepleeg in n era toe jag en slag die orde van die dag was om
kos op die tafel en klere op die lyf te kry. Die hase is klaar dood,
lankal al, hoekom moet die pelsjas nou net eenkant gesmyt word, ongebruik
? Dit is mos tragies dat die hase se pelse nie waardeer kan word nie.
Ek sal die haas se jas dra, in herbinnering van die haas self. Ek sal
die pels nie in die publiek dra nie, in vrees dat iemand n emmer bloed op
my gooi, ek sal dit wel in my eie huis dra en na goeie vriende se huise.
storie deur Vyg Fynbos
|