|
Spinnekop ding-ding
Tron was maar net 5 jaar oud, maar tog n slim seuntjie, hy het graag
boeke gelees, met lego boublokkies gespeel en op sy rekenaar geteken.
Die aand sit beide Bettie en Jan en werk op hul rekenaars, Jan skryf n
Visual Basic program en Bettie teken n ingewikkelde animasie, hulle
konsentreer so hard dat hulle glad nie agter kom dat Tron nie in sy kamer
is nie, maar buite in die tuin.
Dis volmaan buite en Tron kan goed sien. Hy stap onderdeur die
peperboom oor die grasperk skuins verby die vyeboom in die hoek, en gaan
kyk of hy paddas by die waterbak kan sien. Hy sien niks.
Tron staan vir n oomblik stil toe hy die geritsel daar langs die huis
hoor. Hy luister fyn, dis nie die hoenders nie dink hy en stap nader om
beter te kan hoor en kyk.
Hy sien iets, dit lyk spinnekopagtig, dink Tron en gaan staan, hy rek
sy oë om beter te kan sien en staan baie baie stil. Die ding beweeg nie.
Tron wag, hy is nie bang nie, net versigtig.
Na so ruk, beweeg die spinnekop ding-ding. Nou sien Tron duidelik dat
die ding vier arm ding-dinge het met n groot vet lyf. Hy wonder hoekom die
spinnekop ding-ding nie n kop het nie.
Tron stap nader om beter te sien en wens hy het sy flits by hom gehad.
Die spinnekop ding-ding bly op een plek maar dan sien Tron die vier oë op
die spinnekop ding-ding se vet lyf. Die oë glinster in die maanlig.
Tron is nou baie nuuskierig en stap nog nader, hy voel voel in sy sak
en haal die albaster, rekkie en stuk biltong uit. Hy wonder of die
spinnekop ding-ding van die albaster sal hou. Tron stap nog n paar treë
nader. Hy hou sy regterhand uit met die albaster daarin. Die spinnekop
ding-ding kan dit seker nie sien nie, dink hy en hou toe die albaster
tussen sy duim en wysvinger vas.
Die spinnekop ding-ding se oë maak stadig oop en toe. Tron staan
doodstil toe die spinnekop ding-ding nader beweeg en een arm ding-ding
uitsteek na die albaster toe. Die spinnekop ding-ding se arm ding-ding
snuif aan die albaster, maar neem dit nie.
Tron wonder of hy eerder die biltong vir die spinnekop ding-ding moet
gee en bêre die albaster en hou die stukkie biltong uit na die spinnekop
ding-ding.
Die spinnekop ding-ding steek weer n arm-ding-ding uit en snuif aan die
stukkie biltong.
Dis net toe dat Tron die hoendervere op die vloer langs die spinnekop
ding-ding sien.
Skielik raak Tron baie baie bang en dink dat die spinnekop ding-ding al
die hoenders opgeëet het. Tron maak sy mond oop om te skreeu vir help,
maar dis te laat, die spinnekop ding-ding hop op Tron en druk hom vas teen
die grond. Tron kannie skreeu of beweeg nie.
Die spinnekop ding-ding is swaar op Tron, maar dan begin Tron skielik
kalm en rustig word. Prente verskyn in sy kop, prente van n ander wêreld,
die prente flits vinnig die een na die ander.
Tron raak aan die slaap net daar onder die spinnekop ding-ding, later
toe Jan hom daar kom soek, lê hy beentjies opgekrul met n stukkie biltong
styf in sy handjie vasgeklou.
Die volgende oggend toe almal wonder of n wilde kat of jakkals die
hoenders opgeëet het, wil wil daar iets in Tron se gedagtes gebeur, maar
dit bly vaag. Twintig jaar later:
Tron was besig om sy virtual reality kopstuk reg te maak, toe hy die
nuus hoor dat aliens vanuit n ander heelal kontak gemaak het met die
aarde.
Hy was geskok, verwonderd en het dadelik sy werk laat staan om die
rekenaar se klank harder to stel.
Die aliens se 4 ruimteskepe was reguit oppad Suid-Afrika toe. Tron sit
nog so in sy verbasing, toe die spinnekop ding-ding van sy kinderjare, wat
hy heeltemal vergeet het, skielik as n prentjie in sy kop verskyn.
Tron onthou alles, wat daardie aand twintig jaar gelede gebeur het, hy
weet met sekerheid dat die alians oppad na hom toe is, hy is die gasheer
wat die besoekers moet ontvang, hy kan hulle taal verstaan, en weet baie
van hulle af, want twintig jaar gelede is al die inligting aan hom gegee.
Tron gaan bad en skeer, trek homself netjies aan. Klim in sy flitter en
vlieg vinnig na sy ouerhuis. Bettie en Jan is met vakansie in Thailand.
Die huis is toegesluit, maar Tron weet presies waar die ontmoeting gaan
plaasvind. Hy dra n tuinstoel van die stoep af en gaan sit op die presiese
plek waar hy die spinnekop ding-ding twintig jaar gelede gesien het.
Dis n pragtige dag op die aarde.
kort verhaal deur Vyg Fynbos
|