|
Die voetspoor
Die tuin was altyd netjies, nie 'n lekkergoedpapier of stuk plastiek in
sig nie, ons moes gereeld die ou akkerboom se blare ophark in hopies en
dan die hope in die mandjie sit en komposhoop toe dra. Die komposhoop was
agter in die tuin, teen die vibracrete muur, ons het teen die hoop se mure
opgeklim om oor te loer na die bure se vaal tuin van sand en onkruid, ou
geroeste motorwrakke en papiere wat rondwaai in die wind.
Die bome het elk 'n sirkel om gehad, die kweperboom, appelboom,
loekwartboom, en nog ander wie se name ek nooit geweet het nie, en bewaar
die een se siel wat ooit in die sirkel trap.
Een aand na Pa die tuin natgelei het kom hy baie kwaad in die huis in
en begin ruk aan laaie op soek na iets. 'n Ruk later roep Pa ons kombuis
toe omdat hy 'n diep voetspoor in die sirkel by die een vrugteboom gekry
het, hy wil toe by ons weet wie het in die sirkel getrap. Ons verseker hom
dat nie een van ons dit gedoen het nie. Ons was bang, want ons het geweet
ons gaan pak kry.
Pa gaan haal 'n stuk papier waarop hy die voetspoor in die sirkel
afgemeet en oorgeteken het, elkeen van ons moes ons voet oor die tekening
sit. My voet het gepas en ek is badkamer toe gestuur.
Ek was bang en het belowe dat dit nie ek was nie, maar die spoor het
gepas en ek was skuldig, badkamer toe, met venster en deur toegemaak, ek't
gebuk met trane in my oë, oor die toilet om die drie harde houe met sy
plathand te kry.
Dit was nie ek nie, en ek het die volgende dag na Liesbet ons bediende
se voet gekyk en gesien dat sy dieselfde grootte was as ek, ek het geweet
dat dit sy was, maar dit was te laat, ek het klaar pakgekry.
Jare later is ek ook getroud met kinders en ook lief vir tuinmaak,
vandag toe ek in die tuin werk, besig om 'n sloop om die speelboom te
grawe, speel die episode van die voetspoor in die sirkel soos 'n helder
dagdroom deur my gedagtes, en ek besef dat die lewe een groot sirkel is
wat aanhou draai en dat ek baie soos my pa is en hoe ironies dit is dat
die voetspoor in die sirkel, 'n voetspoor in my hart geword het.
kort verhaal deur Vyg Fynbos
|